http://www.wonwen.co.za

Vanuit die Hoof se pen

Vandag vertoef ons so bietjie by die bestaande bekommernis oor die heersende standaarde in die onderwys. Ek verwys na die groep leerders wat verlede jaar gematrikuleer het en gebruik hul prestasies as maatstaf vir 'n kort bespreking.

Agtergrond inligting oor die groep leerders wat in 2009 gematrikuleer het:

1.  Begin hul skool loopbaan in 1997 as 'n groep van 1,44 miljoen leerders.

2.  Aantal van hierdie groep wat in 2009 inskryf vir die matriek eindeksamen: 552 000.

3.  Aantal leerders wat matriek slaag in 2009: 335 000 (23% van die leerders wat in 1997 begin het).

4.  Aantal leerders wat wiskunde slaag in dieselfde eksamen: 133 505 (9,2% van die aanvanklike groep).

Voorafgaande skets op die oog af 'n donker prentjie en daarom verdien dit om kortliks bespreek te word.

DIe 'stadskole' bevind hulleself steeds in 'n besonder gunstige posisie en spog met 'n veel beter deurvloei syfer. Op matriek vlak alleen was die slaagsyfer van leerders wat die eksamen geskryf het 94% teenoor die nasionale gemiddeld van 60%. Dieselfde gunstige posisie word deur die sistemiese evaluering bevestig wanneer daar jaarliks na die standaard van leerders ten opsigte van hulle taal- en rekenvaardighede in graad drie en ses gekyk word. Die gemiddeldes van die leerders op nasionale vlak is skrikwekkend laag en toets jaarliks in die lae dertigs, wat ons land as die swakste in die wereld etiketteer. Ons leerders het egter oor die afgelope drie jaar telkens met gemiddeldes van bo sewentig persent gespog en toon daardeur dat ons beslis gunstig vergelyk met internasionale standaarde.

Alhoewel onderwys oor die algemeen gebuk gaan onder geweldige druk om te verbeter, is daar tog binne die stelsel baie om voor dankbaar te wees. Saam woeker ons aan die toekoms van ons kinders en saam sal ons beslis daarin slaag om 'n positiewe verskil te maak.

Groete: Thinus Venter