Geskiedenis
DIE PLAAS WONDERBOOM
Die plaas "Wonderboom" is vernoem na die ou geskiedkundige Wonderboom wat op 'n deel van die ou plaas staan. Die plaas was oorspronklik 5000 morg groot en die grense het gestrek vanaf Booysenstraat in Gezina, suid van die berg, tot by Wonderboomlughawe in die noorde, vanaf die Apiesrivier in die weste tot by die snelweg in die ooste. Die plaas het in die besit van Daniël Prinsloo gekom deur sy tweede huwelik met Klara Isabella Erasmus.
Na die dood van Klara Isabella, is die huidige Sinoville, Wonderboom, Wonderboomplotte en die Wonderboomlughawe, deur haar dogters en seuns geërf. Die ander deel van die ou plaas is deur die twee dogters van van Daniël Prinsloo geërf. Sy een dogter, Maria Elizabeth, is met Jan Booysen getroud. Na hul dood is haar deel van die grond geërf deur hulle twee dogters naamlik Christina Maria van Deventer en Anna Elizabeth van der Linde. Saam het hulle ook die deel met die Wonderboom geërf. In 1937 het die twee susters saam die Wonderboom aan die monumente-kommissie verkoop.
Anna Elizabeth het ook die ou woonhuis geërf wat in 1868 deur Daniël Prinsloo gebou is. Haar vader, Jan Booysen, het later 'n stuk aangebou wat moes dien as 'n skoolkamer. So het daar dan 'n Staatsondersteunde skool noord van die Magaliesberg tot stand gekom. Die eerste onderwyser was mnr Van Velden wat later deur mnr Ingers opgevolg is. Mnr Dirk Rümpf was die laaste onderwyser want gedurende die Anglo-Boere oorlog het die skool tot niet gegaan.
Die voorstede wat op die plaas uitgelê is wat Christina en Anna geërf het, is Wonderboom-Suid, Wonderboom en Annlin. Wonderboom-Suid is egter reeds al in Jan Booysen se leeftyd verkoop. Annlin is in 1951 geproklameer en Wonderboom in 1972 as dorpsgebied.
Anna Elizabeth Booysen is getroud met Chris van der Linde. Uit Anna van der Linde is die voorstadnaam Annlin gevorm. Die strate rondom ons skool dra vandag nog die familiename. (Met erkenning aan Bettie von Maltitz)
ONS SKOOL SE GESKIEDENIS IN WOORD EN BEELD
Na die Tweede Wêreldoorlog is woningsgeriewe by die Wonderboomlughawe vir 130 gesinne ingerig. Om grootliks voorsiening te maak vir hierdie kinders, is die eerste skool vir dié gebied die "Wonderboomstaatsdorpskool", 'n parallelmediumskool, op 15 Januarie 1946, met 45 ingeskrewe leerlinge geopen. Die eerste waarnemende hoof was mnr H.G. Greeff en sy twee assistente, me L.M slabbert en me H.A. Mauser.
Die ouers het nie op hulle laat wag nie en die eerste skoolkomitee is op 21 Oktober 1946 saamgestel. Die volgende portefeuljes is dan ook vasgestel en gevul:
- Voorsitter: Dr. Sapiro
- Sekretaresse: Mev dr Rowland
- Lede: Mnr James, Mev Beesler en Mev Button
Voorwaar 'n merkwaardige komitee vir 'n merkwaardige begin van 'n klein skooltjie.
Onvergeetlik is hierdie beginjare, jare van twyfel oor die bestaansreg van die skool, jare van waarnemende hoofde en onderwysers en aanstellings wat van jaar tot jaar verleng is. Die tydelike aard van die wonings by die lughawe en die algehele gebrek aan ontwikkeling van hierdie landelike gebied, het tot hierdie twyfel bygedra.
Januarie 1953 - Julie 1956
In Januarie 1953 is mnr A.J. Welgemoed tydelik as die skoolhoof aangestel. Met verloop van tyd sou dit dan ook blyk dat hy die laaste waarnemende hoof van die skool wees vanaf 1946.
Die skoolkomitee kry opdrag in Maart 1954 om die grense van die skool se voedingsgebied te bepaal. Gedurende 1955 is 'n onvermoeide stryd gevoer teen oorwegings van die Skoolraad om die skool geheel en al te sluit. In Desember 1955 besluit die Skoolraad finaal dat die skool nie gesluit sal word nie, maar dat grense nie in daardie stadium vasgestel kon word nie. Aan die begin van 1956 , word die Engelsmediumgedeelte van die skool, by gebrek aan voldoende Engelssprekende kinders gesluit en word die skool vir alle praktiese oorwegings nou Afrikaansmedium.
'n Ligstraal in hierdie tyd, is die toevoeging van mev C.P. Storm se dienste as onderwyseres op 7 Mei 1953. Met haar puik diens aan die skool het sy help bou aan die jeug van ons volk.
31 Julie 1956 - 4 Oktober 1963
Op 31 Julie 1956 word mnr S.M. Booysen aangestel as die eerste permanente hoof van die skool.
Die grond waarop ons skoolterrein ontwikkel is, is goedgunstiglik geskenk deur mev Anna van der Linde. 'n Aksiekomitee is dadelik gestig en onder voorsitterskap van mnr P.J. van der B. Marais, tesame met mnr G.F. Storm, is beywer vir die ontwikkeling van 'n nuwe skool. Die geledere is verstewig met die aanstelling van mnr G.P. Vos in Januarie 1963. Op 4 Oktober 1963 is die "Wonderboomdorpskool" soos toe bekend, finaal gesluit en is na die nuwe skool verhuis.
15 Oktober 1963 - 18 April 1969
Op 15 Oktober 1963 word die vreugde gesmaak van 'n jarelange strewe om die pragtige nuwe skool te betrek naamlik die Annlinse Laerskool met 263 kinders en mnr S.M. Booysen as die eerste hoof. Die eerste personeel van die skool was:
- Mnr S.M. Booysen,
- Mnr G.P. Vos,
- Mnr J.D. de Villiers,
- Mnr P.F. de Villiers,
- Mev C.P. Storm,
- Mev P. Potgieter,
- Mev H.A.E. Niewoudt en
- Mej C. Vlok.
Die eerste skoolkomitee (in Augustus 1964 saamgestel) het soos volg daar uitgesien:
- Ds. J.F. Potgieter (Voorsitter)
- Mnr G.F. Storm (Sekretaris),
- Mnr C.J.H. van der Walt,
- Mnr J.H. Slabber,
- Mnr J.C. van Zyl,
- Mnr D.W. Steyn
- Dr. H.G. van der Hoven
So het die skool gegroei en gebloei, van krag tot krag gegaan en vele akademiese, sport- en kulturele prestasies behaal.
1964 sal altyd onthou word as die beginjaar van hoogtepunte met die vestiging van die nuwe skool:
- - Reeds in April 1964 is goedkeuring verleen vir die aanbou van nuwe klaskamers
- - Op 25 April 1964 word die hoeksteen van die skool deur prof J.J. Mulder gelê
- - Die naam van die skool word op 2 Oktober 1964 verander na Laerskool Wonderboom
- - Die jaar word afgesluit met die besluit dat die skoolwapen die Wonderboom as embleem sal dra met die gepaste leuse "STAAN VAS"
Oom P.W. Botha, ondervoorsitter van die skoolkomitee en sy talentvolle gade het vroeg in 1965 die ontwerp van die skoolwapen voltooi en in dieselfde jaar ontvang ons die pragtige skoollied uit sy pen. Die musiek vir die skoollied is deur prof Anton Kratz geskrywe.
'n Ongekende ontwikkeling van die gebied het hierna gevolg sodat die skool reeds aan die einde van 1967 met 763 leerlinge en einde 1969 1044 leerlinge kon spog. Na jare van voorspoed en sukses is mnr S.M. Booysen op Vrydag 18 April 1969 oorlede. Mnr G.P. Vos, die skool se eerste adjunkhoof, het as hoof waargeneem.
Januarie 1970 - 1977
Vir die eerste keer is die hoofpos geadverteer en met die aanvang van die nuwe skooljaar in Januarie 1970, word die nuwe en tweede hoof, mnr J.D. Venter verwelkom. Mnr J.D. Venter sou die skool deur moeilike jare moes lei o.a. deur twee afstigtings na ander skole met 'n gevolg in daling van leerlinggetalle en verplasing van personeel. In 1977 is mnr Venter bevorder en begin 1978 het mnr Daan Harmse die hoofpos aanvaar.
Januarie 1978 tot Junie 1989
Hierdie tydperk was gekenmerk as die begin van 'n vernuwingstydperk in die onderwys. Mnr Harmse het hierdie vernuwings op hoogs professionele wyse en met groot bekwaamheid hanteer. Laerskool Wonderboom het begin ontluik as 'n leier op kurrikulêre sowel as buite-kurrikulêre gebiede. Oom Daan het die vemoë besit om sy personeel te motiveer om die hoogste waarde vir opvoeding aan die kinders voor te hou. Hy word onthou as 'n ware heer sonder gelyke. Mnr Harmse het die tuig in Junie 1989 neergelê en mnr G. Meyer het as hoof waargeneem tot April 1990.
(Inligting ontleen uit 'n artikel deur mnr D.W. Steyn (Danie), voormalige Minister van Ekonomiese Sake en Tegnologie)
April 1990 tot Desember 2007
Met die aanvang van die tweede kwartaal van 1990 het mnr Thys de Beer met groot kundigheid die leisels oorgeneem. Hierdie tydperk word gekenmerk deur snelle ontwikkeling in en om die skool met radikale veranderinge binne en buite die onderwys. 'n Naskoolsentrum is opgerig, 'n rekenaarsentrum is ontwikkel, nuwe klaskamers is aangebou en bestaande fasisliteite is verbeter en uitgebou.
Januarie 2008 tot Junie 2008
Mnr Roelf Faurie neem in die tydperk waar as hoof.
Julie 2008 tot huidiglik
Mnr Thinus Venter word aangestel as hoof. Sy menswees met die personeel, leerlinge en ouers is opvallend - iemand wat belangstel en omgee.